The story about Molly

Deur Jacolene Strydom geskryf.

Die geboorte van Miss Molly…
Ek was al in die middel van my bestaan toe ek die bevlieging kry om te leer hekel. Sommer so
staan-staan in die gang het my ma my geleer van langbene, kortbene en granny squares. Tot
vandag toe nog kan ek net granny squares hekel en n hele paar beskeie komberse is al uit die
verhouding tussen my hande en hekelpen gebore. Die hekelgogga het my en my dogtertjies
gebyt – maar soos met enige gogga se byt het die fase vir ons verby gegaan…


Diegene wat Chrisma van der Merwe (nèè du Toit) ken, sal weet dat haar man Dirk, seun Henry
en haar diere, haar hele wêreld is.


Die droogte het kom krap waar dit nie jeuk nie en sy en haar gesin moes soos hul boergenote
watertrap in n droë karoo. Droogtehulp was net n sprokiesverhaal en meestal buite hul bereik.
Die verliese het vermenigvuldig en tussen verlore bees, vark, hond en hoender, het die moed ook
begin kwyn.


Die van der Merwes is trotse mense en bakhand staan word nie eers oorweeg nie. Hulle ken van
vinger trek en hul kant bring. As sy net iets kan kry om mee handel te dryf. 
‘n Inkomste te genereer.


En so, liewe vriende, het die “fat sheep” projek lewe gekry. Gebore uit die laaste mosterdsaadjie
geloof van n vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie. ‘n Ma, n Vrou, ‘n Vegter wat besef het
dat sy haar hekelgogga kan inspan voor die kar van n laaste poging om hul kontantvloei aan die
gang te hou, want handoek ingooi was nie n opsie nie.


So trek Chrisma weg met ‘n mankolieke advertensie op facebook en toe sy haar oë uitvee is haar
twee seer hande en gewrigte te min om die skape in die kraal te kry… en die bestellings stroom
steeds in! Sy knyp haarself om seker te maak sy droom nie. Maar die sukses is bitter-soet
want sy kan nie by alles uitkom nie en haar senuwees wankel onder spanning wat ‘n oorvloed
bestellings teweeg bring. Steeds gee die vrou nie moed op nie. Daar in haar gemeenskap
moet tog nog mense wees wat sukkel? Mense wat ook moedeloos gebuk gaan onder die
sambokhoue van die langste droogte van ons tyd. En sò word nog n klomp harte geraak toe
Chrisma haar “fat sheep” patroon vir n paar vroue in die gemeenskap gee en almal help die storm
van bestellings demp met kortbene, langbene en langbeentrossies.


…steeds kom hulle nie voor met die bestellings nie en weer wend Chrisma haar na facebook en
whatsapp groepe opsoek na nog mense wat kan help hekel.


En dis op diè punt want Tannie X toe ook begin help. Soos wat persoonlikhede van mens tot
mens verskil, verskil hoe jy hekel ook. Met diè dat Tannie X se hekelstyl redelik parmantig los
en wulps is, kom haar eerste poging effe reusagtig uit. Effe mollig… Maar getrou aan Chrisma
se natuur, maak sy die vet weet net weer n plan. Sy ken die dankbaarheid wat in jou hart en oë
opwel van elke boodskap wat soek na n skapie vir n kind, kleinkind of sommernet. Sy ken die
lekkerte van n bal wol wat verander in n skapie en lewe kry uit ‘n ritmiese dans met n hekelpen.


Daar was eenvoudig nie ‘n manier dat sy Tannie X se hekelvernuf van die hand sou wys, net
omdat sy losserig hekel nie… En sò, liewe vriende, word Miss Molly gebore. Nog ‘n “fat sheep”
variant wat bestem is om harte te steel en die droogte te breek…


Om jòù “fat sheep” te bestel, whatsapp vir Chrisma by 071 507 4993.

X